Skip to content

Die Pad na 2025

Die son baklei met die horison, gooi lang skaduwees oor die stofstrate van Nieu-Bethesda.

Dis ‘n ander wêreld as Pretoria. Hier’s nie straatligte wat die sterre verdring nie, geen hoë mure wat mense van mekaar afsluit nie. Net stofstrate wat kronkel tussen huise wat oop arms na die wêreld het, asof hulle nog onthou wat dit beteken om te vertrou.

Oom Jakob se donkiekar raas verby, Karolus en Marta, die twee donkies, trek stadig maar seker. Die wiele kerf spore in die rooi sand wat teen die middag weer weggewaai sal wees. Soos baie dinge in die lewe.

Die dorp slaap nog, maar dis ‘n stilte wat nie lank gaan hou nie. Netnou begin die kinders se draadkarre sing op die grondpad. Die uilbeelde staan wag, hul glasoë knipoog in die oggendson. Dalk was ou Helen Martins nie so mal nie, dink ek waar ek op die stoep sit en kyk hoe die dag ontwaak. Miskien het sy net geweet kuns is partykeer al wat ons het om sin te maak van ‘n wêreld wat nie altyd sin maak nie. Elke uil wat sy gemaak het, elke stukkie gebreekte glas wat sy in die sement gedruk het, was ‘n woord in haar eie vreemde gebed.

2024 was soos elke jaar, ‘n leerskool.

Ek onthou vir Jaco wat langs die pad gesit en bedel het, sy oë dof en leeg, sy arms vol letsels van die naalde. Hy was aan heroïne verslaaf, ‘n gevangene van sy eie liggaam. Hy’t altyd gesê hy soek werk, maar sy hande het gebewe van die ontbering, en sy woorde was soms deurmekaar. Ek onthou ook vir JP, met sy kitaar en sy liedjies wat die stilte gebreek het. Hy’t gesing van liefde en verlies, van hoop en wanhoop, en sy musiek het ‘n seer in hom verraai wat dieper as woorde was. Elkeen met sy eie bagasie, sy eie seer. Niemand vertel jou vooraf wat dit regtig kos om iemand te help nie. Dis nie net geld nie. Dis tyd. Berge van tyd. Dis geduld, en dan nog ‘n bietjie meer geduld. Dis om te leer dat ‘n mens se lewe nie oornag regkom nie, dat genesing stadig kom, soos die Karoo-son wat stadig oor die vlaktes kruip. Dis om te besef dat jy nie altyd kan help nie, dat sommige mense nie gered wil word nie.

As ek nou terugkyk, was dit die grootste les van 2024 – die waarde van aanhou, die krag van omgee, selfs wanneer dit voel of niks verander nie. Om te leer dat jy soms net ‘n luisterende oor en ‘n warm koppie koffie kan bied, en dat dit genoeg is.

En toe moes my ouers trek. Pa na Riversdal toe, sy lyf wat oud word en moeg. Hy’t hard gewerk sy hele lewe, en nou het sy liggaam besluit dis tyd om te rus. Ma bly op haar eie, nie ver van Pa af nie. Sy is nog okay, nog sterk en onafhanklik. Die huis op Gouritsmond staan nou leeg, ‘n dop van die lewe wat eens daar was. Dis ‘n nuwe hoofstuk, hierdie. Een wat ons nog nooit geskryf het nie. Een wat ek en my ma en my pa nou saam moet uitfigure. Ons ken nie die woorde nie, ons weet nie waarheen die pad lei nie. Maar dis óns storie, en ons moet dit skryf.

2025 lê voor my soos ‘n oop stuk veld, vol dorings en klippe, maar ook vol beloftes. Die jaar wat die telling gaan verander – Albert een, Jägermeister nul. Die jaar waar ek die lewe voluit gaan leef. Die jaar van ‘n vliegtuigkaartjie na Kroasië, ‘n besluit wat ek geneem het met ‘n hart vol opwinding en ‘n verlange na avontuur. Die jaar waar Aidan matriek toe gaan, waar elke oomblik saam met hom kosbaar word voor hy sy eie vlerke sprei. Hy’t ‘n goeie hart en ‘n sterk gees, en ek weet hy gaan groot dinge doen. Die jaar waar ek en Jollie nuwe plekke gaan ontdek, nuwe kos gaan proe, nuwe stories gaan maak. Jollie, my rots, my maat, my liefde. Sy’t by my gebly deur dik en dun, en saam gaan ons die wêreld aanpak.

Die jaar waar ek meer tyd gaan maak vir die vriende wat tel, die wat daar is deur dik en dun, die wat weet hoe om te luister en te lag en te huil saam met jou. En die wat nie eers tyd het vir ‘n WhatsApp antwoord nie, hulle gaan ek minder moet maak. Die lewe is te kort vir halfhartige vriendskappe.

Die jaar waar ek die foon meer gaan afsit en die wêreld gaan sien, waar ek die GPS se stem gaan ignoreer en my eie pad gaan vind. Die jaar waar ek die grondpaaie van die lewe gaan stap, waar ek meer gaan luister en minder gaan praat. Want iewers op ‘n afgeleë grondpad, in ‘n klein dorpie se stilte, in ‘n koffiewinkel se gesellige chaos, wag die magic. Net anderkant die comfort zone, waar die regte avonture begin.

Die ou mense van die Karoo sê jy moet stilstaan om die besembos te hoor fluister. Hulle sê die vlaktes praat met dié wat weet hoe om te luister. Miskien was dit wat Helen Martins verstaan het toe sy haar huis begin volpak het met uile en glas – dat die mooiste stories begin as jy ophou hardloop en begin sien.

Miskien is dit wat 2025 regtig is – ‘n kans om stadiger te leef, om die krake te sien waardeur die lig deurskyn. Om te onthou dat elke pad, selfs die een met die dorings en die klippe, iewers heen lei.

Die son klim hoër. Die uile se glasoë blink. Hulle weet iets wat ons nie weet nie. Dalk is dit dat elke einde ook ‘n begin is. Dat selfs in die dorre Karoo, die lewe altyd ‘n manier vind om deur te breek.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *