Skip to content

Die Groot Uitbreek

As iemand ons daardie dag in Droom Tehuis Ou Meule se gange sou afneem, sou die foto seker ‘n plek in een of ander komiese tydskrif kry. Ons lyk kompleet soos ‘n mobiele familiereünie: ek wat my pa in sy rolstoel stoot, Jollie wat vir Riana in haar rolstoel navigeer (kompleet met blou oog en drie steke na ‘n ongelukkige ontmoeting met ‘n mede-inwoner in haar tehuis se eetsaal in Oudtshoorn), en Ma wat agterna kom met Pa se stapkarretjie – als in ‘n soort vreemde prosessie deur die gange. As iemand die prentjie moes teken, sou niemand dit glo nie.

Die verpleegsters se gesigte het gewissel tussen kommer en vermaak. Wie kan hulle nou blameer? As jy twee rolstoele, een stapkarretjie, vyf mense en ‘n blou oog sien aankom, weet jy die dag gaan interessant wees – dit klink soos die begin van ‘n kroegstorie, nie ‘n familie-uitstappie nie.

Die gange het skielik gevoel soos ‘n hindernisbaan. Links draai, regs draai, oppas vir die drumpel, moenie die potplant omstamp nie. Dit was soos ‘n dans waarvan niemand die passies ken nie, maar ons almal probeer in ritme bly.

By die kar was dit eers sports. ‘n Mens dink nooit hoeveel choreografie dit verg om twee mense met loopuitdagings in ‘n kar te kry nie. Net toe ons dink ons het die slag beet, haak Riana se voet vas. Daar staan ons toe – half in, half uit, almal met raad, niemand met ‘n oplossing nie.

Die ironie was natuurlik dat ons oppad was na die Ou Tronk – wat nou ‘n museum is vol oudhede. Van een “inrigting” na ‘n ander, het ek stilletjies gedink. Ten minste het hierdie een sy tronkdeure jare gelede al permanent oopgemaak.

Die Ou Tronk se binnehof het ‘n bietjie te hard probeer om sy donker verlede weg te steek. Hout tafeltjies met geverfde dennebolle wat vrolik pronk, maar in die hoek loer die verlede nog: ‘n galgtou agter tralies, ‘n houtluik wat sy eie stories kan vertel. Die kontras tussen die vaas met blomme op ons tafel en daardie galgtou was amper surrealisties.

Ons toer deur die ou tronk was vinnig – dalk omdat die gedagte aan wat hier gebeur het te swaar hang, selfs na al die jare. Maar hier sit ons nou, ‘n familie om ‘n tafel waar gevangenes eens geloop het.

Die spyskaart het ons familie se gebrek aan avontuurlus perfek uitgestal. Een na die ander bestel almal Quiche en slaai. Toe kom my beurt: “Bobotie, asseblief.” Wilde kind van die familie, duidelik.

Jan sê Wet en Loflaaities se kersfees liedjies het deur ou speakers gekraak – die absurditeit van “Stille Nag” wat speel in ‘n plek waar min stilte en nog minder vrede was, het niemand skynbaar gepla nie.

Pa was in sy element. Tussen happies deur vertel hy van die suster wat hom gewas het – ‘n storie wat definitief nie in ‘n gesinsrestaurant vertel moes word nie, maar ons het almal gelag. Hy’t oorgeskakel na sy planne vir sy kamer se drup-plafon: “Dit word elke dag mooier,” sê hy filosofies, “dink ek moet maar neon sterretjies daar plak. Dan’s dit darem ‘n sterrehemel as ek wakker lê.” Toe vertel hy hoe hy sy koekies in sy laai deel met die verpleegsters wat mooi na hom kyk. “Iets vir iets,” sê hy met ‘n skelm knipoog.

Voor ons die ou tronk verlaat, kom ons kelnerinnetjie, Maggie, met die rekening. R674. Ek kyk na haar – moeg maar vriendelik, haar glimlag nooit afwesig nie. Twaalf jaar al werk sy hier. Vier kinders by die huis, die jongste een net sewe maande oud, en skaars ooit ‘n dag af.

Partykeer moet mens net die regte ding doen. “Las maar ‘n duisend rand by,” sê ek vir haar, en tap my kaart. Haar oë word groot. Vir ‘n oomblik verdwyn daardie professionele glimlag, vervang met iets meer eg, meer rou. ‘n Ekstra R1000 gaan dalk nie haar lewe verander nie, maar vir ‘n ma met vier kinders en geen vakansiedae, kan dit dalk ‘n kersfees ‘n bietjie ligter maak.

Die pad terug was stiller, maar nie hartseer nie. Dalk is dit juis wat die lewe is – ‘n mengsel van gee en ontvang. Van Maggie wat twaalf jaar se glimlagte gee, van verpleegsters wat met deernis sorg, van ‘n familie wat kan lag vir rolstoel-hindernisbane en kersfees liedjies in ‘n ou tronk. Van Pa wat droom van sterretjies teen sy plafon. Van mense wat mekaar help om die lewe ‘n bietjie ligter te maak, selfs al is niks meer heeltemal soos dit was nie.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *